YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 1

1
1In die begin van alle tyd het God die hemel en die aarde gemaak. 2Voor die skepping was alles eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai.
3God was egter daar en Hy het gesê: “Laat daar lig wees.”
4Skielik was daar oral lig. God was baie tevrede met die lig wat Hy gemaak het. Hy het dit apart van die donkerte gehou. 5God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die eerste dag van die skepping.
6God het weer gepraat: “Laat daar ’n soliede massa in die middel van al die waters kom, sodat daar ’n duidelike skeiding tussen die waters sal wees.” En dit het gebeur.
7God het toe hierdie soliede struktuur gemaak. Dit het die ontsaglike massas waters onder en bo die aarde uitmekaargehou. 8God het hierdie blou struktuur in die lug “hemel” genoem. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die tweede dag van die skepping.
9God het verder gegaan en gesê: “Laat al die water onder die hemelruim op een plek bymekaarkom sodat daar ook droë land sal wees.” En dit was so.
10God het die droë land “aarde” genoem en die plek waar al die water bymekaargekom het, “see”. God het gesien dat dit wat Hy geskep het, goed was.
11God het weer gepraat en gesê: “Laat die aarde sy groeikrag wys en laat daar oral welige groen plante uitkom; verskillende plante met hulle sade. Laat daar oor die hele aarde verskillende soorte vrugtebome wees.” En alles het presies so gebeur.
12Uit die vrugbare aarde het daar oral welige groen plante opgekom, alle denkbare soorte plante. En binne-in elke plant was elkeen se saad. Daar was ook oral vrugtebome. God was baie tevrede met wat Hy rondom Hom gesien het. 13Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die derde dag van die skepping.
14God het gesê: “Laat daar ligte in die hemelruim wees sodat mense kan weet wanneer dit dag en wanneer dit nag is. Laat die ligte die mense help om die regte tyd te bepaal. 15Laat die ligte aan die hemelruim ook elke dag vir die mense op die aarde lig gee.” En dit het so gebeur.
16God het twee groot ligte gemaak. Die ou grote, die son, moes oor die dag heers. En die kleintjie, die maan, oor die nag en die sterre. 17God het hierdie twee ligte toe bo in die hemelruim geplaas, sodat dit lig op die aarde bring: 18die grote oor die dag en die kleintjie oor die nag. So is die lig van die donkerte geskei. En God was baie tevrede met die son en die maan wat Hy gemaak het.
19Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vierde dag van die skepping.
20God het gesê: “Laat die waters wemel van alle soorte seediere en laat die voëls oor die lengte en die breedte van die hemelruim rondvlieg.”
21God het toe die groot seediere gemaak, so ook alle diere wat in die waters leef. God het ook elke denkbare soort voël gemaak. Hy was baie tevrede met al die seediere en voëls wat Hy gemaak het.
22God het hulle geseën en gesê: “Wees vrugbaar en word baie. Maak nou die water van die see vol met allerhande soorte seediere. En laat die hemelruim en die aarde vol swerms voëls wees.”
23Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vyfde dag van die skepping.
24God het gesê: “Laat die aarde verskillende soorte diere oplewer: alle soorte klein- en grootvee, kruipende dinge en wilde diere.” En dit was so.
25God het toe al die verskillende soorte wilde diere gemaak asook alle soorte klein- en grootvee en al die kruipende dinge op aarde. En God was baie tevrede met die diere wat Hy gemaak het.
Die mens
26Toe het God gesê: “Kom Ons maak ’n mens, ’n mens wat iets van My in hom het en selfs ’n bietjie soos Ek lyk. Hy sal oor die visse in die see regeer asook oor die voëls in die hemel. Hy sal die klein- en grootvee asook al die wilde diere tem. Hy sal oor al die kruipende diere op die aarde heers.”
27God het toe die mens gemaak. En dié mens het iets van God in hom gehad. Dié mens het soos God gelyk. God het ’n man en ’n vrou gemaak.
28God het hulle toe geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en kry baie kinders, so baie dat julle oral oor die aarde sal bly. Tem die aarde en heers daaroor. Heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en al die diere op die aarde.”
29God het verder gesê: “Kyk, Ek gee jou elke plant wat saad dra asook elke vrugteboom op aarde as jou kos. 30En vir al die diere op die land, al die voëls in die lug en al die diere wat op die aarde kruip, gee Ek die groen plante. Dit sal hulle kos wees.” En dit was so.
31God het alles wat Hy gemaak het, goed bekyk en Hy was baie tevrede daarmee. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die sesde dag van die skepping.

Currently Selected:

Genesis 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy