YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 1

1
God skep alles
1In die begin het God die ganse heelal geskep#1:1 Of In die begin toe God gemaak het …, die hemel daarbo en die aarde hieronder. 2Maar die aarde was ’n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Die Gees van God het oor die oppervlakte van die water gesweef.#1:2 ’n Alternatiewe vertaling is ’n Geweldige wind het oor die oppervlakte van die waters gewaai. 3Toe beveel God: “Laat daar lig wees!” en dit was so. 4Die lig was vir God goed. Daarop het God die lig en die donkerte van mekaar geskei. 5God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit alles het op die eerste dag gebeur.
6God het beveel: “Laat daar skeiding kom tussen die waters!” 7So het God die hemelkoepel gemaak wat die water bokant die aarde skei van die water onder op die aarde. Dit het alles net so gebeur. 8God noem toe die blou koepel “hemel”. Dit het op die tweede dag gebeur.
9God het beveel: “Laat die water op die aarde op een plek bymekaarkom sodat die droë grond te voorskyn kan kom!” Dit het presies so gebeur. 10God noem toe die droë grond “land” en die versameling water noem Hy “see”. Ook dit was vir God goed.
11Toe beveel God: “Laat plante uit die grond voortspruit wat saad dra en ook vrugtebome wat vrugte gee.” En dit het gebeur. 12Die aarde het toe sulke plante voortgebring, asook vrugtebome van allerlei soorte. God het gesien dat dit goed was. 13Dit het op die derde dag gebeur.
14God het beveel: “Laat daar ligte wees aan die hemelkoepel sodat dag en nag onderskei kan word en dit ook kan dien as tekens om seisoene, dae en jare te bepaal. 15Die ligte in die hemelkoepel moet ook die aarde verlig.” Dit het toe so gebeur. 16So het God die twee groot ligte gemaak: die grootste om in die dag te skyn en die kleiner een om in die nag te skyn. Hy het ook die sterre gemaak. 17God het hierdie ligte in die hemelkoepel geplaas om die aarde te verlig, 18die een in die dag en die ander in die nag en ook om lig en donkerte van mekaar te skei. God het gesien dat dit goed was. 19Dit het op die vierde dag gebeur.
20God het verder beveel: “Laat die waters wemel van lewende wesens en laat voëls bo in die lug oor die aarde vlieg.” 21God het die groot seediere geskep, al die verskillende soorte wesens wat in die water lewe, asook al die baie soorte voëls. God was tevrede met wat Hy gesien het. 22God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die oseane en laat die voëls op die aarde vermeerder.” 23Dit het op die vyfde dag gebeur.
24God het weer beveel: “Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer: mak diere, diere wat kruip en wilde diere – almal na eie aard.” Dit het presies so gebeur. 25So het God allerlei soorte wilde diere gemaak, mak diere en diere wat op die grond kruip. God het gesien dit was goed.
26God sê toe: “Laat Ons ’n mens maak wat met Ons ooreenstem om te heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, en oor alles wat op die aarde kruip.”
27God het die mens in ooreenstemming
met Homself geskep;
volgens sy eie beeld
het God hulle geskep;
manlik en vroulik het Hy hulle
geskep.
28God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde.” 29Verder sê God: “Let op, Ek het aan julle al die plante wat saad dra, gegee en al die bome wat vrugte en saad gee. Dit is vir julle om van te eet. 30Maar die groen gras en plante gee Ek aan al die diere op die aarde, die voëls in die lug en die klein diertjies wat op die aarde kruip.” Dit het so gebeur. 31God het na sy handewerk gekyk en dit was baie goed. Dit alles het God op die sesde dag gemaak.

Currently Selected:

GENESIS 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy